“Wat is die belangrikste eienskap waarvoor jy in jou kudde selekteer?” Die antwoord wat n mens telkens kry, is dat vrugbaarheid die belangrikste eienskap is. Hiermee saam stem ons vleisbeesprodusente ook saam, en dit is dat genetiese vordering gelyk is aan wins. In ons program van 8 Augustus gesels ons hieroor met Johan Styger van die BTB Simmentaler stoet naby Hartbeesfontein. Hy verduidelik ook wat die voordele is van die poena geen in enige vleisbeeskudde.
Philip Dreyer van die Evenwyd Bonsmarastoet boer in die Memel omgewing. Hy gesels oor hoe hy bulle en vroulike diere selekteer en die belang van kleiner kalfies by geboorte. n Ander belangrike eienskap is dat die koeie goeie melk moet hê want dan kan daar verseker word dat n swaarder speenkalf geproduseer word.
Danie Dames, Angus Rasdirekteur verskaf inligting oor die groei in die beesras en praat spesifiek oor die waarde van kruisteling in n kommersiële vleisbeesproduksiestelsel.
AJ du Toit van die La Rhone Limousinstoet in die Wes-Kaap gesels oor hul telingsprogram en sê dat die hart van hul telingsprogram hul koeikudde is. Kwaliteit is die wagwoord in hul vleisbeesboerdery.
Rustin Shawe van Grassfields Africa Droughtmasters vertel ons meer oor die geskiedenis van hul boerdery en waarom hierdie beesras hul na aan die hart lê.
Skakel gerus in op jou gunsteling gemeenskapsradiostasie of luister saam op jou selfoon of rekenaar dmv SoundCloud. Groetnis 😊