In die breë sin van die woord sluit die term plantgesondheid alles in alles wat met n gewas te doen het vanaf planttyd tot die besondere omgewing waar dit verbou word. Ons kan nie veel aan die klimaat doen nie maar deur n holistiese benadering tot plantgesondheidsorg te volg, kan dit n groot bydrae lewer tot voedselsekerheid in SA. So sê Prof Seef Pretorius, Direkteur van Agraforum in ons program van 13 Februarie. Hy verduidelik watter benadering hul volg tot plantgesondheidsorg.
Rens Smit, Navorsingstegnikus by Langgewens Navorsingsplaas praat oor graanproduksiestelsels en hoe om minder insette te gebruik. Moet nooit iets onnodig doen nie, doen grond ontledings, monitor jou grond en as daar rerig n tekort is, stel dit dan reg.
Dr Belinda J van Rensburg, Plantpatoloog by die LNR gesels oor die belang daarvan om gebruik te maak van gesertifiseerde saad. Die produsent wat van hierdie saad gebruik maak kan die gemoedsrus hê dat die saadlot deur meer as 90 kontrolepunte gaan voordat dit vir verkoop beskikbaar gestel word.
Cobus Visagie, Kommersiële Bestuurder by Afrimat gee vir ons inligting oor hul maatskappy en gesels ook oor die vervaardiging van landboukalk. Hul verskaf ook kalsium wat gebruik word in aanvullings vir veevoere.
Skakel gerus in op jou gunsteling gemeenskapsradiostasie of luister saam op jou selfoon of rekenaar dmv SoundCloud. Groetnis 😊